AFTREKBAARHEID VAN RENTE VIR NIE-HANDELDRYWENDE INDIVIDUE

Die SAID se Praktyknota 31.2 (PN31.2) bepaal dat ’n persoon by magte is om rente wat betaal is af te trek, selfs as die persoon nie ’n geldskieter is of enige ander bedryf beoefen waar die rentekoste aangegaan is in die produksie van ander rente wat verdien is, in die mate dat dit nie die rente-inkomste te bowe gaan nie. Kragtens heersende inkomstebelastingwetgewing word hierdie praktyk (wat belastingbetalers bevoordeel) streng genome nie ondersteun deur die Wet op Inkomstebelasting, 58 van 1962 nie.

Vertroue op hierdie praktyk is onlangs oorweeg in die Wes-Kaap Hoë Hof.[1] Weens die unieke samestelling van die belastingbetaler se dienskontrak as ’n vennoot in ’n regsfirma, is ’n gedeelte van sy winsaandeel weerhou as ’n verpligte rentedraende lening aan die werkgewer om lopende bedryfskapitaal-behoeftes te befonds (direkteurslening). Terwyl periodieke uitkerings van opgeloopte rente op die direkteurslening aan hom betaal is en as belasbare inkomste behandel is, is hy nie toegelaat om terugbetaling van die kapitaal te eis terwyl hy in diens is nie. Terselfdertyd sou die belastingbetaler rente aangaan op ’n lening van die bank wat gebruik is om vaste eiendom te koop (banklening).

Die hof moes oorweeg of daar genoegsame verband is tussen die rente deur die belastingbetaler aangegaan op die banklening en die rente wat hy verdien op die uitstaande balans van die direkteurslening. Anders gestel, of die bankrente beskou kan word as sou dit aangegaan was in die produksie van rente-inkomste op die direkteurslening.

Die belastingbetaler het aangevoer dat dit so was aangesien hy die opbrengs van die direkteurslening sou gebruik het om die banklening te vereffen as dit nie was vir die streng terugbetaingsvoorwaardes nie en terselfdertyd die kapitaal en rente wat aangegaan is op die banklening, verminder het nie. Hy het die gedeelte van die banklening gelykstaande aan die direkteurslening beskou as ’n terugbetaalbare lening waarop ’n belastingvermindering toegestaan behoort te word. Hierdie standpunt is ondersteun deur bewyse van deposito’s in die banklening uit uitkerings van winsaandeel wat ook met mekaar strook.

Die hof het bevind dat selfs as aanvaar word dat die fondse wat tot die krediet van die  direkteurslening staan, ‘kapitaal’  of ‘surplusfondse’ is soos vereis deur PN31.2, enige uitkerings daarop wat hy ontvang, geheel en al na goeddunke van die werkgewer geskied. Gevolglik was hy nie volkome afhanklik van die uitkerings om die banklening in stand te hou nie en die feit dat hy deposito’s in die bankrekening gemaak het uit winsuitkerings, doen nie afbreuk aan hierdie feit nie. Om toegang tot die banklening te verkry moes hy dit in stand hou uit ander bronne as die uitkerings op die direkteurslening. Die doel van die banklening was dus om hom van ’n fasiliteit te voorsien en nie om die direkteurslening in stand te hou nie. Daar kan nie gesê word dat rente betaal op die banklening, rente wat op die direkteurslening verdien word, teweeggebring het nie. Hy sou rente op die direkteurslening ontvang het ongeag die bestaan van die banklening. Die hof het gevolglik die belastingbetaler se pleidooi vir aftrekking van die rente wat verdien is, verwerp.

Die onderskeid wat die hof getref het tussen die twee scenario’s wat in PN31 behandel word, is belangrik. PN31.1 behandel ’n scenario waar rente-koste aangegaan is in die beoefening van ’n bedryf terwyl PN31.2 ’n scenario behandel waar ’n belastingbetaler nie ’n bedryf beoefen nie. Die vereistes van die twee paragrawe behoort afsonderlik oorweeg te word en nie as ’n enkele beginsel behandel te word nie. Dit is derhalwe belangrik dat belastingbetalers wat rente-aftrekkings wil eis en staatmaak op PN31, altwee scenario’s moet oorweeg, veral as hulle nie geldskietery bedryf nie.

[1] L Taxpayer vs The Commissioner for the South African Revenue Service (Case A124/2017, on appeal from the Tax Court).

Hierdie artikel is ’n algemene inligtingsblad en moenie as professionele advies gebruik of vertrou word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings, of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).

This entry was posted in Belasting and tagged , , . Bookmark the permalink.