REËLS VIR SKULDVERMINDERING: NUWE BELASTINGBETALERSVRIENDELIKE WYSIGINGS WORD VERWAG

Die Suid-Afrikaanse Inkomstebelastingwet bevat ’n aantal reëls wat aanleiding gee tot  knellende  belastinggevolge wanneer ’n belastingbetaler se skuld kwytgeskeld word. Hierdie reëls was in onlangse jare die onderwerp van omvattende wetgewende wysigings.

Tydens die 2018-begrotingsproses het die Nasionale Tesourie aangedui dat hulle bewus was van onbedoelde belastinggevolge wat voortspruit uit hierdie nuwe skuldverligtingsreëls in die Inkomstebelastingwet wat in werking getree het met betrekking tot jare van aanslag wat ’n aanvang neem op of na 1 Januarie 2018. Op 31 Mei 2018 het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) ’n opsommende verslag gepubliseer met terugvoering uit ’n onlangse werkswinkel van die Nasionale Tesourie wat oorweging geskenk het aan voorstelle vir wysiging van hierdie reëls.

Die voorstel uit hierdie werkswinkel is dat die omvang van die skuldkwytskeldingsreëls gewysig moet word deur ’n wysiging van die definisie van die term ‘toegewing of kompromis’ ten einde te fokus op rasionalisasie-gebeure. ’n Aantal transaksies wat voorheen onderhewig was aan die knellende reëls sal voortaan buite die bestek van die reëls val wanneer daar slegs wysigings aan die terme en voorwaardes van ’n skuld aangebring word.

Een van die mees beduidende wysigings wat voorgestel word is die mate waartoe die omwisseling van skulde tot aandele (skuldkapitalisasie) onderhewig sal wees aan die reëls vir skuldkwytskelding. Tans is die kapitalisasie van alle skulde onderhewig aan die reëls. ’n Nuwe definisie vir ‘rentedraende skuld’ sal ingevoer word om slegs rentedraende skuld wat gekapitaliseer word aan die reëls onderhewig te maak. Hierdie voorstel is kommersieel-vriendelik en verskaf meer opsies vir skuldherstrukturering sonder die vrees dat die proses nadelige belastinggevolge kan meebring. Groepmaatskappye sal ook die voodeel hê dat hulle rentedraende skuld van die reëls uitgesluit sal word; dog, rente daarop mag by kapitalisasie verhaal word.

Dit is veelbetekenend dat wysigings aangebring sal word aan die waardasievereistes van die reëls vir skuldkwytskelding. Daar sal nie meer vereis word dat die waardasie van skuld oorweeg moet word nie maar slegs die waarde van die aandele wat as teenprestasie uitgereik is. Bepaling van die waarde van skuld is tans een van die mees kontensieuse sake in die skuldverminderingstelsel, gegewe dat daar dikwels beperkinge is met die verkryging van ’n objektiewe waardasie van skuld as dit nie in die openbaar verhandel word nie. Hierdie voorstel word verwelkom. Die begrippe “markwaarde” en “sigwaarde”wat gebruik word om vas te stel of enige skuldvoordeel verkry word as gevolg van die kwytskelding van skuld, sal ook opgehelder word.

Die Nasionale Tesourie het ook aangedui dat hulle helderheid sal verskaf oor sekere teenvermydings-aangeleenthede wat verband hou met skuldkwytskelding en verder aangedui dat die skenkingsbelasting-uitsluiting wat tans in swang is, verwyder sal word.

Hoewel terugvoering uit die werkswinkel op ’n hoë vlak is, is die eerste aanduidings dat baie van die onsekerhede en onbedoelde gevolge van die reëls oor skuldkwytskelding aangespreek sal word wanneer die konsep van die Wysigingswet op Belastingwette vroeg in Julie 2018 gepubliseer word. Geen uitnodiging is gerig vir openbare kommentaar op die voorstelle nie, aangesien hieraan aandag geskenk sal word gedurende die 2018-siklus van wetgewende wysiging. Die effektiewe datum van die voorstelle sal 1 Januarie 2018 wees.

Hierdie artikel is ’n algemene inligtingsblad en moenie as professionele advies gebruik of vertrou word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings, of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).

This entry was posted in Belasting and tagged , , . Bookmark the permalink.